Op ‘n middag ry ek vroeg van Bellville om ‘n Goodwoodwoonstel wat sprakeloos op Tafelberg uitkyk aan iemand te gaan wys. Ek doen eers aan by Bellville Biblioteek, en die mense, die mense le op sypaadjies.
Bellville Biblioteek, ArtB Gallery, my katedraal van eens, steier in verval. Veg, maar die vuil golf wat opbou is baie groot. Die boeke is onder verspreide tafeldoeke. Die skilderye daarbinne le en snak na asem. Elizabeth tuin daarbuite het baie kolke plastiek van mense wat vanaand daar moet oorleef. Die tuin kom tweede. Die gras en die bankies, die bome, huil soos verlore mense.

Ek gee die vriendelike dame wat my vertel ek hoef nie te betaal nie, want ek was te vinnig terug by my se kar, geld. Sy lag my ‘n wye dankbare glimlag. En ek ry voort. Stoom deur Parow via Voortrekkerweg. Eens was daar ‘n energie wat jou onverwags verras het. Nou veg die dorpsgebied vir oorlewing. ‘n Moerse lot tweedehandse karverkoopplekke. Die tweedehandse meubelverkoopplekke wat jou ‘n outentieke orgasme vir die verlede gegee het, is bloot toetentaal weg. Die strate skreeu van baie basiese oorlewing.

En Here, die kinders. Op straathoeke, by verkeersligte steierstap hulle tussen die karre deur. Hulle kyk ons karmense, mooi karre mensig, vir geld. Met verlate oge. Met tik oge. Met ‘n kyk wat vertel dat ons hulle godloos gedop het. Hulle skarrel vir skaamkry geld, om te tik, sodat die pyn net minder kan raak. En ek is kwaad vir Roger Waters. Hy sing Deja Vu soos niemand anders nie. Proffesore van my jeug, kom luister na Roger Waters. Maar eintlik weet ek, julle sou nie kon nie. Maar ek is kwaad vir hom want hy maak mens huil.

So ry ek Goodwood toe. verby die verlore kinders. Verby die verlate winkels. En ek gaan staan en wag vir my Simson klient. Oorkant die teerpad, voor ‘n Goodwoodhuis waarin ek eerder as ‘n R 8 000 000 huis sou wou woon, staan ‘n swartman uit diep Afrika op die sypaadjie met ‘n dogtertjie en nog ‘n baie kleiner mensie. Die dogtertjie huil. Die man sien ek kyk en vee haar trane met ‘n oorbaadjie half lomp af. Ek bly kyk. Sy hou nie op om hartseer te wees nie. Die klein enetjie gaan sit met knietjies op die rand van die sypaadjie. Om te wag vir iets of iemand.

Hulle stap oor die Goodwood teerpad. Ek groet. Vra hoekom huil die dogtertjie so. Sy voel die skooljuffrou het haar ingedoen. Nou kan ek haar beter sien. Sy is pragtig, intelegent verby. Sensitiwiteit wat skreeu vir ontvangs. Trane steeds op die wange. Ek het ‘n half minuut. Glimlag vir haar soos die hoop op ‘n sonsopkoms. Ek praat met die pa. Vra of hulle in die aande voor slaaptyd stories hoor. Mens kan vertel. Of lees. Maar die siel skreeu vir dit. Hy knik soort van kop, ek glo hom nie. Maar miskien vanaand. “Een aand word die kinders wakker…en Oupa Uil kom met ‘n ‘hoe hoe’ roep wat eintlik huil, uit die boom…”

My asem slaan weg. Dit is ‘n Goodwoodmiddag. Dit is nie sofistikasie klas nie. Nie Sandton nie. Nie Clifton nie. Maar ek sien haar. ‘n Meisiekind, so klein, so woedend dapper. Met diep Afrika sensitiwiteit. Wat huil oor onreg. En haar pa vee met ‘n oorbaadjie trane af. Miskien omdat ek kyk.

Maar ek het twee sinne gepraat toe hulle oor die pad gestap gekom het. Sy sal weet. Die bleekvel ouman het haar in twee sinne ‘n padkaart probeer gee.

Don Quixote, Cervantes, kan julle my asseblief net in vrede los.

Toe ek vooraf, in afwagting op die afspraak, medikasie gaan koop het om tyd sinvol te verwyl, en ‘n langgg ry mense gesien staan het voor ‘n bankteller, was ek getempteer om heel voor in te val en te kyk wat sou volg. Daardie lekkerte het ek ontsnap, maar die kind wat trane gehuil het oor onreg, het ek betyds besef. Sy sal vanaand weet, iets ongenaamd, is betekenisvol aangebied. Wat anders dan ‘n swaard gehef teen die Tsunami van die lewe?

So gedoen Don. Don Quixote. Inspekteer my swaard. Daar is ‘n snap van dapperte.

Wim van der Walt