Goeiemore Meneer die Briewe Redakteur,

Ek lees so ‘n hele paar jaar of wat gelede in ‘n koerant dat die bikini toe meer dan 70, 80 jaar jaar oud is. Ek het net gevoel ek behoort ook my respekte te betoon aan daai Fransman, nogals ‘n ingenieur, wat in 1946 die bikini op strande laat ontplof het.

Ek voel egter voorts verplig om my self in die reine met die samelewing te bring, maar ek het ook hierdie katarsis nodig om my gewete se las ligter te maak. Dit was die jaar 1963 en ons het vanuit die diep Karoo Heroldsbaai toe gegaan vir die Desembervakansie. Daar is sinkers gemaak, koekies gebak vooraf, visgery is nagegaan en ek as tienjarige lightie het met groot entoesiasme aan die voorbereiding tot die vakansie deelgeneem.

Liewe leser, liewe hemel, ek pleit byvoorbaat vir genade. Vir insig. Liewe hemel, die kind was maar net ‘n skrale tien jaar oud en daar in die Karoo het ons net kraaie, skape en Landbankwolkies geken. Daar is ek toe, op die eerste oggend na aankoms in somer ekstase af strand toe. Miskien het ek al reeds my eerste swem in Heroldsbaai se gevaarlike see gehad, miskien nie.  Maar lê ek toe op my badhanddoek en bekyk die strand. Die wordende lewe.

En dit was toe, wat dinge gevaarlik verkeerd verloop het. Sy was seker so oppad na agtien of twintig jaar oud, maar daar was iets aan haar wat my kop laat sing het. Dit was voor dit begin pyn het. Die flippin meisiekind het net twee stukkies lap aangehad wat so half na swemgoed gelyk het. Maar dit is nie wat ek raakgesien het nie. Ek weet egter nie wat ek regtig raakgesien het nie. Ek dink dit het hoogwater geword en laagwater en springgety, ‘n groot droogte, die oordeelsdag, maar ek het net na hierdie verskynsel en al haar mundane klein bewegings aanbiddend bly staar.

Edelagbare, ag ek bedoel, Meneer die Redakteur, op ‘n stadium het hierdie wese wat nie soos enige van die skape of kraaie wat ek geken het, gelyk het nie, opgestaan en na die rotse doerie kant van die strand begin aanstap. Nee, sy het nie gestap nie, sy het gesweef. Nee, sy het nie gesweef nie, sy het die branders aan dié kant en die wind aan die anderkant met haar heupe weggestamp. Nee, nie gestamp nie, vriendelik weggewuif. En hulle het vir haar geluister. Ek sweer.

Liewe leser, ek vra weer, julle is grootmense, ‘n mens kan sekerlik begrip en vergifnis van julle verwag. Ek het opgestaan en agterna gestrompel. Beide die see en die wind het my links en regs gekap. En voor my het sy soos ‘n beswymenis net haar rug teen alles regop gemaak en sonder ophou bly aanstap. Met tyd, ek dink ek het ‘n jaar of twee verouder in daardie tyd, het sy op ‘n rots gaan sit.

Ek het verby geskarrel en ‘n ent aan op ‘n ander rots gaan sit. Terwyl sy oor die ontstaan van die wêreld en Mannetjies Roux se duikslae op die rugbyveld gesit en peins het, het ek ‘n ander gedagtegang gehad. Ek het oor die wye oseaan gestaar en vir hulp in Trompieboeke gaan soek, by die Hoof van Keurboslaan gepleit vir enige vorm van verstaanbare hulp, maar daar was net hierdie lugleegte in my kop. Dit was nou behalwe vir die dromme wat in my donnerse ore geklop het.

En hier kom dit nou, Meneer die Redakteur, ek het my deskundigheid oor die lewe goed bymekaar geroep en besluit dat ek sou naderstap en vir haar vertel dat ‘n heks my horribaal getoor het en as ek nie ‘n vroumens van kop tot tone soen voor ek terug Karoo toe moes gaan nie, dan was ek doodgebore.

Toe ek opstaan om hierdie heel menslike versoek aan haar te gaan oordra, was daar niemand en niks meer by daardie rots nie. Niks. Flippin niks. ‘n Ekstreme lugleegte. Ook nie op die res van die genadelose strand nie. Niks. Niemand so nie. Pynlik. In verskeie opsigte.

Dit was dan my ontdekking van die wonderlike Fransman se bikini. En ten slotte, as daardie meisie, wat nou al veel veel ouer dan laat sewentig, tagtig, jaar oud, of ‘n bietjie verder, se kant moet trek, dalk hierdie woorde lees en daardie gefokusde klein snotkop moontlik kan plaas, wil ek net vir haar baie beleefd sê, thanks for bloody nothing.

Thanks for nothing.

Wim van der Walt – Tygervallei